Friday

Amper terug werk toe


So jy is amper oppad terug werk toe en voel ewe skielik of jy niks het om aan te trek nie …

Dis dalk tyd om voorraadopname te doen van wat in jou kas is om te sien waarmee jy het om te werk voordat jy na die winkels storm en onnodig geld uitgee.

Begin om te kyk watter sleutelitems jy het. Jy behoort goed te kan regkom met: 2-3 broeke/rompe (basiese kleure en dalk een helder een om by te meng en pas), 3-4 hemde/toppies (party mouloos en ander met moutjie), 1-2 rokke (net bo die knie, midi of lank), ‘n tussen-in baadjie wat by al die items pas en dan ook 2-3 pare skoene (wighakke is gemaklik en lyk goed by meeste rokke en broeke)

Nou dat jy weet wat in jou kas is behoort jy maklik te kan sien watter items jy kort. Wees slim as jy gaan inkopies doen – kyk na goeie kwaliteit materiaal wat nie maklik kreukel nie, kyk na die wasinstruksies en pas al die items in jou mandjie aan. Die eenstuk/jumpsuit (sien bo van Mr Price) is nou baie gewild. Die lekkerte van die regte eenstuk is dat dit dan die probleem van soek vir nog ‘n broek en top eensklaps oplos. Maak seker die eenstuk pas goed en dat jy dit maklik kan aan en uittrek vir wanneer jy ‘n draai moet loop ;)

Let ook op na die kleur van items sodat jy dit maklik saam met die res van jou kas kan dra. Kleur is een van die maklikste manier om by te bly met die nuutste modegiere veral as jy nie gemaklik voel om die nuutste style en snitte te dra nie.  Wit-en-swart kombinasies is weer groot asook aksente van koraalkleure. Gaan loer in by ‘n paar kostuum-juweelwinkels vir ‘n armband, halsnoer of oorbelle om te sorg vir interessantheid sonder om baie geld te spandeer.  Ander goed wat jou voorkoms in ‘n kits kan afrond is ‘n mooi handsak, ‘n lip- of naelkleur wat die items in jou kas (en jou gelaat) komplimenteer of ‘n stylvolle sonbril.

Laat sny sommer jou hare se punte (of waag dit dalk met ‘n nuwe haarstyl) of  koop ‘n nuwe parfuum en jy’s reg om die 2015 aan te vat!

*Sien bo vir 'n paar items as inspirasie 


2 comments: