'Decoding dress codes'

'n Spesifieke dress code kan soms ‘n hoofpyn wees, veral as jy nie lekker weet wat daarmee bedoel word nie. Onder bespreek ek die volgende verskillende dress codes:

*Black Tie/Formeel
*Semi-Formeel
*Smart Casual
*Casual
*Cocktail

Onthou dat dress codes met tyd verander en ook afhang van die modes, plaaslike kultuur en die spesifieke okasie.

Dress Code 1: Black Tie/Formeel
Black Tie/Formeel

Black Tie/Formeel is ‘n dress code wat met aandfunksies geassosieer word.  Mans dra gewoonlik ‘n pak of 'n netjiese swart baadjie. Vroue het effens meer vryheid en kan wegkom met hul mees formele cocktail-rok of knie- of vollengte aandrok.

Indien jy besluit om ‘n eenvoudige rok te dra, vul jou voorkoms aan met keurig uitgesoekte juwele en bykomstighede. ‘n Kledingstuk gemaak van ‘n besonderse materiaal  - ‘n ryk tekstuur, borduurwerk of spesiale patroon - kan ook baie treffend wees en het min ander detail nodig.

Hou kleur en snit ingedagte. ‘n Rok kan hoe mooi lyk op die hanger, maar as hy nie reg sit nie is dit beter om eerder iets anders te koop wat jou figuurtipe pas. Probeer om ‘n kleur te kies wat jou komplimenteer of jou natuurlike bates beklemtoon.

Grimering & hare: Beplan jou grimering – donker oë of donker lippe (liefs nie beide nie) – hier is die regte keuse van kleur weereens baie belangrik. Maak ook seker jy gebruik die  regte kleur onderlaag sodat jy nie te geel, pienk of wit lyk nie. Indien jy nie gereeld grimering dra nie of nie seker is wat sal werk nie, maak gerus vir jou ‘n afspraak by jou naaste grimeertoonbank. So leer jy ook sommer ‘n paar nuwe truuks wat jy volgende keer self kan probeer. Kyk rond in ‘n paar tydskrifte of internet na haarstyle waarvan jy hou. Kyk of jy dit self kan regkry of maak vir jou ‘n afspraak by haarstilis. Vat ‘n prentjie saam sodat hulle presies weet wat jy wil hê. Gebruik ‘n goeie haarsproei sodat jou hare die hele aand mooi lyk.

Hande & voete: Maak seker jou naels is netjies en skoon. Jy kan ook dalk vooraf eksperimenteer met ‘n paar kleure naellak wat mooi werk saam met jou rok en velkleur. Gee jou naels ten minste 45min om goed droog te raak voor jy jou skoene aantrek of in jou handsak krap.

‘n Bypassende aand-handsakkie sal jou voorkoms mooi afrond. Maak seker al die goed wat jy wil saamneem pas daarin voordat jy een koop. Handige items om in jou aand-sakkie te hê is: lipstiffie, lipglans, gesigpoeier, klein parfuum/deodorant, maskara, tissues, pepermente, kontant. As jou skoene jou voete druk, gooi ‘n paar pleisters ook in :)

Dress code 2: Semi-formeel

Semi-formeel

Hierdie dress code is vir baie mense moeilik om te volg omdat dit nie duidelike riglyne het nie. Dis nie formeel nie en ook nie informeel nie en kan ook wissel afhangend of dit ‘n dag- of aandfunksie is.

As jy onseker is, is my beste raad om nie te informeel aan te trek nie. Werk dalk met ‘n basiese rok/broekpakkie wat jy dan meer formeel kan maak met hoëhakskoene, juwele en bykomstighede. As jy by die partytjie kom en jy voel ‘over dressed’ kan jy altyd van die juwele afhaal of ‘n alternatiewe paar skoene saamneem wat jy in die kar kan aantrek. ‘n Snyersbaadjie of pashmina kan ook baie doen vir ‘n eenvoudige uitrusting.

‘n Goeie basis vir ‘n semi-formele uitrusting is die klassieke little black number of interessante driekwart-lengte rokkie.

Die juwele wat jy kies kan ook ‘n groot invloed op jou voorkoms hê – blink chandelier diamant oorbelle lyk byvoorbeeld baie meer formeel as pêrel/goud of silwer-stud oorbel.

As jy bang is om te formeel te lyk, moenie jou hare in ‘n stywe opgesteekte styl dra nie. Probeer eerder ‘n meer natuurlike voorkoms met sagte krulle of dra jou hare los met ‘n knippie vir detail. Hou jou grimering ook so natuurlik as moontlik. Begin met ‘n goeie onderlaag (maak seker dis die regte kleur vir jou). Rokerige oë van liggrys of bruin skakerings oogskadu lyk ook baie mooi. En moenie van ‘n bietjie lipstiffie of lipglans vergeet nie.

Goed versorgde hande en voete dra ook by tot jou totale voorkoms. As jy min tyd het, verf jou naels met kleurlose/nude naellak en vryf jou hande en voete met ‘n lekker lyfbotter in.

Rond jou voorkoms af met ‘n eenvoudig maar stylvolle aand-handsakkie en ‘n tikkie parfuum.

Dress code 3: Smart Casual

Smart Casual

Dis my gunsteling dress code. Gemaklik, maar tog sjiek en stylvol.

Meeste mense trek volgends hierdie dress code aan vir werk. Dis lyk professioneel maar is effens meer ontspanne. Mans kan ‘n snyersbroek of chinos dra met ‘n kragie-hemp. ‘n Baadjie is opsioneel. Geen dasse of plakkies nie. Die broek en baadjie hoef ook nie bymekaar te pas nie. ‘n Netjiese belt en horlosie lyk ook altyd goed. Vroue kan wegkom met ‘n rok, broek of romp waarby 'n goed gesnyde baadjie mooi pas. Wees versigtig vir té kaal of té kort. Hoëhakskoene (toe of met bandjies), of netjiese platskoene soos balletskoene is aanvaarbaar. Basiese juwele soos silwer, goud, circonia en pêrels werk goed vir hierdie dress code. Dus geen jeans, tekkies of T-hemde nie. Daar is natuurlik uitsonderings soos ‘n ontwerper/snyers denim of ‘n T-hemp van ‘n besonderse materiaal/snit.

Hare: netjies en skoon
Grimering: natuurlik, doen ‘n bietjie ekstra moeite. Eksperimenteer met helder kleur lippe of rokerige oë om jou voorkoms interessant te hou
Hande en voete: netjies en versorg

‘n Mooi handsak en lekker parfuum rond hierdie voorkoms goed af.

Dress Code 4: Casual/Informeel

Casual/Informeel

Hierdie dress code het nie eintlik reëls nie en laat jou toe om jou persoonlike styl ten volle uit te leef. Meeste studente en vakansiegangers trek aan volgens hierdie dress code. Gemak speel ‘n groot rol – baie style is dus afkomstig van sportdrag. Mettertyd het die styl baie gewild geword en is deesdae baie meer interessant as die oorspronklike jeans, T-hemp en tekkies. Variasies sluit punksportyretro, romanties & hip-hop in. Jy het ook vrye teuels as dit kom by bykomstighede en juwele. 

Jy kan jou hare en grimering dra soos jy wil. Gewoonlik word daar nie veel moeite daarmee gemaak nie. Gewilde haarstyle is ‘n poniestert, losserige bolla, los hare met natuurlike krulle of met ‘n kopband. Grimering is natuurlik en bestaan gewoonlik net uit onderlaag, maskara en lipglans – eksprimenteer gerus met ‘n  lip stain of oomomlyner. Met die somer om die draai en omdat jy heel waarskynlik baie tyd buite gaan spandeer, moenie van sonskerm vergeet nie. ‘n Tinted moisturizer met SPF werk ook baie goed en jy kan dit sommer in jou handsak gooi. ‘n Ander item vir jou handsak  is ‘n parfuum spritzer/mist wat jy gedurende die dag kan aanspuit om te verfris en ook af te koel.

Dress Code 5: Cocktail

Cocktail

‘n Cocktail-partytjie is ‘n lekker ding, maar daar is niks slegter as om daar aan te kom en over of under dressed te wees nie. Die plek waar die partytjie gehou word sal vir jou die beste aanduiding wees van die tipe cocktail-drag wat verwag word. ‘n Cocktail-partytjie by vriende se huis sal dus meer informeel wees as een by ‘n luukse hotel.

Mans kan wegkom met ‘n netjiese broek, kragie-hemp en ‘n baadjie. ‘n Baadjie is opsioneel as die partytjie meer informeel is. ‘n Mooi horlosie, belt en formele skoene rond dié voorkoms goed af.

‘n Korter rok (gewoonlik net bo of onder die knie) word tradisioneel beskou as ‘n cocktail-rokkie. Jy kan lekker speel met bykomstighede om by die geleentheid te pas. Skoene is ook gewoonlik ‘n groot deel van die uitrusting en kan ook die fokuspunt wees indien jy ‘n eenvoudige rok wil dra.

Jy het ook vrye teuels as dit kom by grimering en hare solank dit by jou algehele voorkoms en die tyd van die funksie pas – wees versigtig vir swaar grimering vir middagfunksies. Hou gesigpoeier en lipglans in jou handsakkie om jou grimering later te verfris.

Wanneer jy jou parfuum aansit, spuit ‘n bietjie in die lug en loop daardeur sodat die geur ook op jou hare en res van jou lyf val. So ruik jy die hele aand lekker en versprei die reuk van jou parfuum soos jy deur die vertrek beweeg :)

No comments:

Post a Comment