Styltipes: vroue

Hieronder is 'n lys van die 8 hoof styltipes vir vroue. Meeste van ons is 'n mengsel van 2-3 styltipes. Daar is geen reg of verkeerd nie, party seisoene en modegiere beinvloed ook soms mens se styl. Almal van ons het 'n paar kledingstukke wat ons op die ingewing van die oomblik gekoop het, maar wat nie heeltemal 'jy' is nie en wat jy dan ook nie dra nie. Deur jou hoof styltipe/s te ken maak dit vir jou makliker om jou 'look' te vestig en sulke kopies te voorkom. Met items in jou kas wat saamwerk (en wat eie is aan jou styltipe), word meng-en-pas 'n plesier eerder as 'n moeisame taak elke oggend.

Klassiek
Hou jy daarvan om elegant en tydloos te lyk? Sal jy jou klerekas as formeel beskryf? Jy hou van goeie kwaliteit materiaal, kledingstukke met goeie snitte en eenvoudige egte juwele - en sal jy veel eerder jou geld daarop spandeer as op die nuutste modes.

Baadjie-pakkies (met broek, rompie of rokkie wat daarby pas) is items wat jy in jou kas het en jy hou van neutrale kleure & skoon lyne.


Kreatief
Hou jy van unieke kledingstukke, helder kleure en interessante motiewe? Dra jy dikwels items wat nie bymekaar pas nie? Jy volg nie noodwendig die nuutste modes nie, maar vind jou inspirasie by stylikone se giere en uit vorige era's. Tweedehandse winkels, markte en kleiner boetieks is jou gunsteling uithangplekke.

En in jou klerekas is daar enigiets van serpe, ongewone bykomstighede, hoede en gehekelde items.


Romanties
Hou jy van pastelkleure, blommotiewe, kant en fluweel? Het jy meestal kristal-, marguisette- en pêreljuwele.

Jou klerekas bestaan hoofsaaklik uit sagte, ongestruktureerde items en jy verkies veel eerder 'n waterval-trui bo 'n baadjie. Somtyds neig jou styl ook na hippie of boheems.


Stadsjiek
Is dit vir jou belangrik om altyd reg aangetrek te wees vir 'n geleentheid? Jou styl kan beskryf word as gesofistikeerd maar altyd in pas met die nuutste modes.

Jou klerekas bestaan uit 'n basis van klassieke items ('n nommerpas-denim, goed gesnyde baadjie en 'n paar pare sjiek skoene & stewels) wat jy meng met mode-items soos 'n groot handsak, serpe in die seisoen se nuutste kleure of interessante juwele.




Natuurlik
Hou jy van klere wat gemaak is van natuurlike materiale soos wol, katoen en linne? Verkies jy eenvoudige handgemaakte juwele, leerskoene en -handsakke? Jou klere is gemaklik, prakties en sonder tierlantyntjies. Jou styl word nie bepaal deur die nuutste modes nie en jy hou ook nie daarvan om ure in die winkels deur te bring nie.

Die basis van jou klerekas bestaan uit denims, linnebroeke & -baadjies, katoenhemde en woltruie.


Sportief
Dra jy omtrent elke dag 'n sweetpak? Meeste van jou klere is gemaak van rekstof of katoen. Dis vir jou belangrik dat jou klere gemaklik, prakties en funksioneel is om aan te pas by jou aktiewe leefstyl. Jy stel nie juis belang in die nuutste style en modegiere nie.

Jou klerekas bestaan hoofsaaklik uit sweetpakke, vliesstoftops, T-hemde en tekkies?


Nuwerwets
Jou styl is alles behalwe vervelig en jy eksperimenteer graag met die nuutste modeneigings? Jou klerekas verander die heeltyd en jou styl kan as avontuurlustig beskryf word. Jy kyk gereeld FTV, koop omtrent al die modetydskrifte en klere-inkopies is jou gunsteling tydverdryf.

In jou klerekas is enigiets wat op die loopplanke te sien is en jy dra ook hierdie items voor die meeste mense eers daarvan weet.


Dramaties
Verkies jy klere wat gemaak is van blink materiaal, helder kleure en diermotiewe? Jy dra altyd hoëhakskoene en hou daarvan om raakgesien te word.

Om so sexy en aantreklik as moontlik te lyk is vir jou belangrik en jy kies ook jou klere met jou figuur ingedagte. "Minder is meer" is beslis nie jou motto nie.