Thursday

Tyd vir 'n klerekas-regruk?

Wanneer laas het jy tyd afgeknyp om 'n slag deur jou klerekas te gaan en krities te kyk na elke kledingstuk? Ek weet, ek weet... wie is nou lus daarvoor? Ek het onlangs deur hierdie proses gegaan - die taak het soos 'n berg voor my gelê. Ek besluit toe om dit stuk-stuk te doen, maar toe ek eers begin regpak en uitgooi kon ek nie ophou nie - ek blameer dit op die Lente in die lug :)

Deesdae is dit 'n plesier om my kas oop te maak (en ook baie makliker om te besluit wat om aan te trek omdat ek kan sien wat in my kas is.) So, maak 'n plan as jy moeg is vir jou deurmekaar kas en voel of jy nooit iets het om aan te trek nie. Sien onder 'n paar vrae wat jy vir jouself kan vra as jy sukkel om te besluit of jy 'n item wil hou of nie. Vra ook 'n vriendin om te help as jy nogsteeds twyfel.

  • Pas die item se kleur my of laat dit my ouer en afgemat lyk?
  • Vlei die snit my figuur?
  • Pas die item nog of sit dit sakkerig of styf?
  • Is die kledingstuk voos gedra of het dit enige werk nodig soos 'n soom wat uit is of 'n knoop wat af is?
  • Wanneer laas het jy die item gedra? Dink jy dat jy dit ooit weer sal dra?
  • Pas die item nog by jou lewenstyl, persoonlike styl en ouderdom?
  • Hoe voel jy as jy die item dra?
  • Pas die kledingstuk by ten minste 3 ander in jou klerekas?

Probeer om 3 hopies te maak: klere wat jy wil hou; klere wat reggemaak of verstel moet word en klere waarvan jy ontslae wil raak. Pak dan die items wat jy wil hou netjies in jou kas en maak werk van die wat jy wil regmaak, verstel of ontslae van wil raak. Jy behoort ook nou maklik 'n inkopielys te kan maak van items wat kort in jou kas.

Sterkte - dis so die moeite werd!

No comments:

Post a Comment